C57
Sessie – bedrog – polis op ‘n bedrieglike wyse deur werknemer van die versekeraar aan homself gesedeer – lening teen die polis – restitusie.
Agtergrond
‘n Familielid van die polishouer wat ‘n adviseur by die betrokke versekerings maatskappy was wat die polis uitgereik het, het op ‘n bedrieglike wyse bewerkstellig dat die polis aan homself “gesedeer” word. Die versekeringsmaatskappy het die “sessie” niksvermoedend as sodanig aangeteken waarna die familielid ‘n aansienlike lening teen die polis uitgeneem het. Pas daarna het hy die polis weer aan die polishouer “terugsedeer”. Die polishouer het intussen voortgegaan om die premies te betaal totdat hy aftrede bereik en agtergekom het dat hy die premies nie meer kon bekostig nie. Dit is eers toe hy die polis opbetaald wou maak dat die bestaan van die onbetaalde leningskuld ontdek is. ‘n Bedrogsaak is teen die familielid aanhangig gemaak wat onderneem het om die lening terug te betaal, maar daarvan het daar ongelukkig weinig tereg gekom.
Bespreking
Toe die hele petalje uiteindelik op die lappe kom, het die versekeraar via ons kantoor aangebied om die polis vry van die lening en teen sessie aan hom deur die polishouer van enige eise wat laasgenoemde teen die bedrieër mag hê, te herstel. Die polishouer het die polis intussen afgekoop en die versekeraar het daarop onderneem om “die verskil tussen die kontantwaarde wat aan hom uitbetaal is en dit wat dit sou gewees het indien die lening nie aangegaan was nie, aan hom te betaal,” teen ontvangs van die sessie van aksie.
Resultaat
So gesê, so gedaan.
JP
Oktober 2005