CR108 Onvanpaste advies – belegging in die buitelandse mark – verhoor – remedie.

CR108

Onvanpaste advies – belegging in die buitelandse mark – verhoor – remedie.

Agtergrond

1. Mnr X ontvang by sy aftrede ‘n aansienlike bedrag. Hy win advies in by mnr M wat ‘n werknemer is van ‘n makelaars maatskappy wat ‘n deelnemende lid van ons skema is. Sy uitdruklike opdrag aan M, so is daar tydens ‘n verhoor ooreenkomstig Reël 5.3 deur ons kantoor bevind, was dat die belegging “veilig” en “risiko vry” moes wees. M beveel ‘n belegging in ‘n buitelandse produk van maatskappy A aan. X aanvaar die advies. Op die stadium toe die belegging gemaak word, het M opreg geglo, geoordeel aan die wyse waarop die fonds in die onmiddellike verlede presteer het en omdat dit allerweë destyds bemark was as ‘n belegging “met baie hoë groei en lae risiko” dat dit ‘n belegging was wat inderdaad veilig en risiko vry was. Soos die toeval dit wou hê, was die belegging in die buitelandse markaandele met verloop van tyd nie veilig nie. Te wyte aan ongunstige buitelandse marktoestande en die onverwagte verstewiging van die rand teenoor die dollar, het die waarde van die belegging skerp gedaal. Mnr X het sy geld aan die betrokke fonds onttrek en in die Suid Afrikaanse geldmarkfonds herbelê. Hy het ‘n verlies getoon waarvoor hy M verantwoordelik gehou het en by ons kantoor daaroor kom kla.

2. Met die instemming van beide partye het daar ‘n verhoor plaasgevind waartydens etlike verskille in die getuienis van X en M geblyk het. Op die kernpunt het M egter met X saamgestem dat sy mandaat was dat die belegging “risiko vry” moes wees. So het hy, M, dit ook gesien. Trouens, M het maatskappy A self gebel en is deur hulle verseker dat die belegging, vanweë sy wye verspreiding in aandele oor die hele westerse wêreld, “so veilig soos die bank van Engeland” was.

Bespreking

3. Tydens die verhoor is bevind dat die twee getuies albei te goeie trou was maar verskillende betekenisse aan die begrip “risiko vrye belegging” geheg het. Vir X het dit beteken: ‘n belegging vry van enige risiko’s, oftewel ‘n belegging waar sy kapitaal nie sou verminder nie; vir M het dit beteken: ‘n belegging wat prakties gesproke sonder risiko was, met ander woorde, vry van enige redelik voorsienbare risikos.

4. Hoewel geen belegging in aandele en veral nie ‘n belegging in buitelandse aandele ooit volkome risiko vry sou wees nie, kon sodanige risiko’s wel getemper word deur ‘n waarborg van kapitaal. Sulke produkte was destyds inderdaad in die mark beskikbaar. Tydens die verhoor is daar bevind dat dit by M berus het, juis omdat X ‘n leek op die gebied was, om seker te maak dat hy en sy kliënt dieselfde ding in gedagte gehad het; dat die kliënt behoorlik oor die voorgenome produk ingelig was en dat mnr X die belangrike verskil tussen ‘n produk met ‘n kapitale waarborg en ‘n produk met ‘n lae risiko behoorlik begryp het. Omdat mnr M opreg maar verkeerdelik gemeen het dat die belegging wat hy aanbeveel het, wel risiko vry was, het hy dit nie nodig geag om die potensiële tekortkominge van ‘n lae risiko belegging en die relatiewe voordele van ‘n gewaarborgde produk aan mnr X uit te spel nie. Daar is bevind dat mnr M as ‘n kundige op die gebied die moontlikheid moes voorsien het dat mnr X dalk ‘n ander indruk kon gehad het van wat ‘n “veilige belegging” presies was. Hy moes aan mnr X verduidelik het dat sy kapitaal nie gewaarborg was nie. As hy dit sou gedoen het, so is bevind, sou mnr X op die waarskynlikhede nie in die besondere produk belê het nie. In die resultaat het mnr M se advies, hoe seer dit ook al te goeder trou was, nie aan mnr X se vereistes en mandaat voldoen nie. Die advies, agterna en objektief beskou, was dus nie gepas nie.

5. Uit dié bevinding het dit geblyk:

(i) dat daar nie aan mnr X se opdrag voldoen was nie;
(ii) dat mnr X gevolglik verkeerd geadviseer was;
(iii) dat hy geadviseer moes gewees het om in ‘n fonds te belê met ‘n voordelige opbrengs en ander byvoordele en waar sy kapitaal gewaarborg sou wees;
(iv) dat sulke produkte indertyd wel in die mark beskikbaar was, ook ten opsigte van buitelandse beleggings.

Resultaat

6. Aangesien die belegging wat wel gemaak is eers ‘n paar maande later tot ‘n einde sou gekom het, moes mnr X se skade met verwysing na daardie datum bepaal word. Basies is beslis dat sy skade die verskil sou wees tussen die werklike belegging in die buitelandse produk soos op die latere datum (indien dit nie onttrek was nie) en die waarde op daardie datum van die produk wat X geadviseer moes gewees het om in te belê. Die berekening is uitgestel tot na die latere datum. Na ‘n verdere skermutseling tussen die partye oor wat die aangewese produk moes wees, is daar met verwysing na die latere datum op ‘n waarde ooreengekom en het betaling dienooreenkomstig geskied.

PMN
10/2005

Download Attachments

Subscribe to our Newsletter