CR149 Misseling – onvanpaste advies – belegging – lewende annuïteit – appèl.

See too: CR, Misselling,

CR149

Misseling – onvanpaste advies – belegging – lewende annuïteit – appèl.

Agtergrond

Mnr H was ‘n kliënt van A M Makelaars (AM) wat ‘n deelnemende lid van ons skema is. Mnr H het gedurende 1998 so ongeveer R700 000 op advies van AM aangewend om ‘n lewende annuïteit aan te koop. 60% daarvan is in aandele belê, 11% in “bonds” en 29% in kontant. Hy het op ‘n maandelikse inkomste van R6 000, oftewel 9.2%, besluit. In Augustus 1998 vanweë ‘n ineenstorting op die effektebeurs was die waarde van sy belegging slegs R500 000. Sy vrou het op daardie stadium ook met behulp van AM ‘n verdere R400 000 in ‘n lewende annuïteit in twee gebalanseerde fondse belê. Haar maandelikse onttrekking het 16% geloop.

AM het mnr & mev H daarop gewys dat as hulle sou voortgaan om maandeliks soveel te trek, ‘n groter deel van die belegging in aandele sou moes wees om hul kapitaal te beskerm. Oorsese beleggings is aanbeveel.

‘n Jaar later het AM die gesamentlike portefeulje hersien en mnr en mev H weereens daarop gewys dat hul maandelikse onttrekkings te hoog was. Bowendien het die oorsese mark op daardie stadium nie goed presteer nie. Dit het vir ‘n verdere verlies van R150 000 getoon. Mnr H wou egter nie gehoor gee aan AM se advies om na ‘n ander, minder riskante, fonds te skuif nie. Sy standpunt was dat die bestaande fonds ‘n langtermyn groeifonds was waarmee hy tevrede was.

Toe die mark egter steeds swakker presteer, het mnr H by ons kantoor kom kla dat AM hom op ‘n nalatige wyse ten opsigte van sy beleggings geadviseer het ten gevolge waarvan hy die verliese gely het.

Toe die kantoor na ‘n verwisseling van stukke egter teen hom beslis, het hy appèl aangeteken, onder meer op grond daarvan dat ons kantoor nie onpartydig was en sy klagte nie na behore oorweeg het nie.

Mnr H is ooreenkomstig Reglement 6.8.1 versoek om ‘n bedrag van R10 000 in die trustrekening van ‘n aangewese prokureur te stort om die koste van die appèl te help dek. Om die partye tot die geskil tegemoet te kom, het die kantoor ingestem dat die appèlverrigtinge in Johannesburg voor ‘n afgetrede regter sou geskied. Na aanhoor van getuienis van die drie werknemers van AM wat mnr H en sy vrou van advies bedien het, en van mnr H self, het die tribunaal beslis dat die advies wat aan hom en sy vrou gegee is nie onvanpas was nie en dat ons kantoor se optrede by die hantering van die klagte ook nie gekritiseer kon word nie. Dié appèl is gevolglik van die hand gewys.

Bespreking

In die loop van sy uitspraak het die regter hom soos volg uitgespreek:

Dit bring my dan by die appellant se twee klagtes. Wat die eerste een betref, dui die getuienis daarop dat dit nie onvanpas was om ‘n betekenisvolle gedeelte van die appellant se oorspronklike belegging in die aandele mark te belê om vir kapitale groei in sy portefeulje voorsiening te maak nie. Weens die aard van die doel van ‘n lewende annuïteit kan so ‘n beslissing, myns insiens, nie as onwys beskou word nie. Uit sy gesprekke met Mnr X was die appellant ook bewus van die feit dat daar ‘n belegging in die aandele mark sou wees. Hy het inderdaad, volgens sy eie getuienis, voorstelle gemaak van effektetrusts waarin daar belê kon word maar Mnr X het ander sulke trusts aanbeveel. Die appellant kla dat, om meer as 60% so te belê, nalatig was – veral op ‘n stadium toe die aandele mark op ‘n hoë vlak gestaan het. ‘n Daling in die mark, beweer hy, kon verwag word.

Dit is algemeen bekend dat die aandele mark onbestendig kan wees maar die algehele ineenstorting van die mark in Augustus 1998, ses maande nadat die fondse belê is, kon klaarblyklik nie verwag of voorspel word nie. Dat die instorting van die aandele mark die belegging nadelig geaffekteer het, is ongetwyfeld waar, maar kan, myns insiens, nie voor AM se deur gelê word nie.

Daar is in verskeie sake in Suid-Afrika oor die wisselvallighede van die aandele mark kommentaar gelewer. In Jowell v Bramwell-Jones 2000(3) SA 274 (SCA) sê Appèlregter Scott op bl 284:

“The vagaries of the share market are legion”.

Hy verwys met goedkeuring na wat Regter King in Kaapstad daaroor gesê het in Ex Parte Wagner N.O. 1988(1) SA 790 op bl. 791-792. Daar het die geleerde Regter hom soos volg uitgelaat (met verwysing na “the type of investment which by reason of the risk factor attaching to it is capable of producing capital appreciation to offset the deprivations of inflations” – en natuurlik ook inkomste onttrekkings):

“Every investment where the capital is not fixed has, in modern parlance, a downside potential. Even the most azure of blue-chip shares is unprotected against the vagaries of the financial market place, however remote these may seem with regard to particular shares at particular points in time.”

Daardie opmerkings is ook met goedkeuring aangehaal in Ex Parte Ewing N.O. 1995(4) SA 101 (D). Alhoewel ‘n adviseur soos AM dus kon voorsien dat daar ‘n daling in die aandele mark mag wees (asook, natuurlik, ‘n verbetering daarin) kon AM, na my mening, nie die algehele ineenstorting van die mark in Augustus 1998 redelikerwys voorsien het nie. Daar kan dus, in dié opsig, nie nalatigheid aan AM toegeskryf word nie.

Die saak van Crous v Imatu Staff Pension Fund and Others (2001) 4 BPLR 1817 (PFA) (aangehaal deur AM se regsverteenwoordiger) het as sulks geen betrekking op die huidige geval nie, maar daarin sê die Beregter vir Pensioenfondse:

‘The fact that markets all around the world, including the Johannesburg Stock Exchange ‘crashed’ in July/August 1998 resulting in the funds’ assets decreasing in value does not in itself imply that the assets were improperly invested.”

Daardie opmerking, waarmee ek eerbiediglik saamstem, is veral geldig insover dit die Mei 1998 belegging betref.

Dit word nou deur ons howe aanvaar dat ‘n ekonomiese verlies wat deur ‘n eiser gely word van ‘n verweerder verhaal kan word indien laasgenoemde nalatig was. In Abrahams & Gross v Cohen 1991(2) SA 301 (C) is daar soos volg beslis:

“A defendant may be held liable ex delicto for causing pure economic loss…. but before he is held liable it will have to be established that the possibility of loss of that kind was reasonably foreseen by him and that in all the circumstances of the case he was under a legal duty to prevent such loss occurring”.

Die toets of ‘n verweerder nalatig was, is of sy optrede in die besondere geval nie die optrede van ‘n redelike persoon was nie. In Sea Harvest Corporation v Duncan Dock Cold Storage (Pty) Ltd 2000(1) SA 827 (SCA) stel die Appèlhof dit so:

“The true criterion for determining negligence is whether in the particular circumstances the conduct complained of falls short of the standard of the reasonable person.”

(Kyk ook Neethling, Potgieter en Visser : Delict, 2de uitgawe, bl. 280.) Van der Walt en Midgley: Principles of Delict, 3de uitgawe, bl. 185 sê dan ook:

“Foreseeability is the cornerstone of the test for negligence.”

Die redelike persoon is ‘n persoon van redelike intelligensie wat die norme en standaarde van die gewone persoon, oftewel die man op straat, handhaaf. Soos dit in een Appèlhof-saak gestel is:

“Ons maatstaf is die van die wyse huisvader nie van die kroniese pessimis nie wat altyd die ergste vrees.”

Die redelike persoon kan dan ook na gelang van omstandighede verander. Die maatstaf van die deskundige op ‘n besondere gebied is anders as dié van die gewone man in die straat. Dit is ook so deur ons howe erken:

“The diligens paterfamilias (die gewone redelike persoon) is replaced by the reasonable expert.”

‘n Redelike deskundige sal ‘n beleggingsadviseur insluit (sien Durr v Absa Bank 1997(3) SA 448 (A)).

Die appellant betoog dat AM se optrede nie dié van ‘n redelike deskundige op die gebied van beleggingsadvies was nie. Hy argumenteer dat, wat sy oorspronklike belegging van Mei 1998 betref hulle ‘n daling in die aandele mark moes voorsien het. AM se advies om in die Z Trust te belê, was ook volgens hom nalatig, want hulle kon voorsien het dat dit te riskant was om daarin te belê. Wat laasgenoemde betref, is die appellant se standpunt bondig die volgende: AM het my geadviseer om in die Z Trust te belê; ek het daardie advies gevolg; ek het daarna ‘n aansienlike verlies in die belegging gely; derhalwe is AM teenoor my vir daardie verlies aanspreeklik.

Dit is ongelukkig nie die regsposisie nie. As dit so was, sou geen beleggingsadviseur sy werksaamhede kon voortsit nie, want elke keer as die aandele mark daal of daar ander omstandighede intree wat daartoe lei dat die belegger ‘n verlies ly, sou die adviseur vir die verlies aanspreeklik wees. Dit kan nie die geval wees nie.

In Durr v Absa Bank sê Appèlregter Schutz op bl 470:

“An investment advisor is not as such the guarantor of what he recommends.”

Die redelike persoon kan ook nie verwag word om teen elke moontlik teenslag te waak nie. Aldus is in S v Borchris Investment (Pty) Ltd & Anor 1998(1) SA op bl. 866-867 deur die Appèlhof gesê:

“The reasonable person is not a prophet and is not required to foresee the probability of harm to another but only to recognize a possibility real enough to warrant preventive measures.”

En in Broom & Another v Administrator Natal 1966(3) SA op bl 516, sê Regter Harcourt dat dit nie van hom verwag word dat hy “the foresight of a Hebrew prophet” moet hê nie.

Ons howe het ook by heelwat geleenthede die waarskuwing uitgespreek dat om die redelike voorsienbaarheid van ‘n geval te bepaal daar teen wysheid agterna (“hindsight”) gewaak moet word. In Durr v Absa Bank sê Appèlregter Schutz:

“Courts should guard against using ex post facto knowledge and employing the benefit of hindsight for what is obvious afterwards might not have appeared so at the time.”

Dit geld, myns insiens, vir beide die besluit om 65% van die appellant se fondse in Mei 1998 in die aandele mark te belê, asook die besluit om sy fondse in 2000 in die Z Trust te belê.

Daar is ‘n verdere aspek wat nie uit die oog verloor moet word nie. In Honey & Blankenberg v Law 1966(2) SA 43 (aangehaal in Van der Walt en Midgley op bl 188) sê die Hof:

“a reasonable error of judgment will exclude the implication of negligence. The deciding factor is whether or not the error of judgment was bona fide and reasonable in all the circumstances. If a reasonable person in the same situation acting could have made the same error of judgment, the error is not negligent.” (Ek onderstreep die word “could”.)

Na my mening was die advies om in die Z Trust te belê hoogstens ‘n ”error of judgment” wat ander beleggings adviseurs “kon” (“could”) gemaak het en in alle waarskynlikhede inderdaad gemaak het.

Wat ek hierbo uiteengesit het word bondig soos volg opgesom in die aanhaling deur AM se regsverteenwoordiger uit die Amerikaanse saak van Stark v United States Trust Company of New York:

“A trustee’s performance is not judged by success or failure, ie right or wrong and while negligence may result in liability, a mere error of judgment will not. Prophecy…. is (not) expected of trustees and their performance must not be judged by hindsight but by facts which existed at the time of the occurrence.”

Na my mening was daar geen nalatigheid deur AM in enige twee van die beleggings wat hulle namens die appellant gemaak het nie en is die appellant se klagtes korrek deur die Ombudsman afgewys. Die appèl faal derhalwe. Hierdie gevolgtrekking maak dit onnodig om met AM se punt in limine nl. dat enige eis deur die appellant verjaar het, te handel.

Wat die appellant se klagte teen die Ombudsman betref gaan sy argument, dat daar nie genoegsame of behoorlike aandag aan sy klagtes teen AM gegee is nie, myns insiens nie op nie. Sy klagtes is op 5 Augustus 2003 by die Ombudsman ingedien. AM se antwoord daarop is gevra en die appellant is daarna die geleentheid gebied om daarop te reageer. Al die feite is behoorlik uiteengesit en die verskillende sienswyses daarop oorweeg en die Ombudsman se eerste beslissing is op 31 Mei 2004 aan die partye bekend gemaak. Die appellant het daarna verdere vertoë aan die Ombudsman gerig wat ook oorweeg is waarna die eerste beslissing op 13 Augustus 2004 bekragtig is. Desnietemin is daar nog verdere vertoë deur die appellant gemaak. Weereens is hulle oorweeg voordat die finale beslissing deur die Ombudsman op 1 Junie 2005 gemaak is. Elke geleentheid is aan die appellant gebied om sy sienswyse en vertoë voor die Ombudsman te lê, en AM is behoorlik oor hulle optrede uitgevra. Daar kan derhalwe in geen opsig betoog word dat die Ombudsman nie die appellant se klagtes oorweeg het nie. Dat die Ombudsman teen die appellant beslis het, beteken ook nie dat sodanige beslissing eensydig of nie onpartydig was nie.

In elke geval is daar twee partye – een party se sienswyse moet gehandhaaf word; die ander party se sienswyse moet dan noodgedwonge afgewys word. Waar die een party dus “wen”, om dit eenvoudig te stel, en die ander “verloor” kan daar nie gesê word dat die beslissing eensydig of nie onpartydig was nie, tensy daar feite is wat dit ongetwyfeld aandui. Geen sulke feite bestaan of is deur die appellant geopper nie. Sy klagte teen die beslissing van die Ombudsman moet derhalwe ook van die hand gewys word.

Resultaat

In lig van die uitspraak is mnr H se R10 000 verbeurd verklaar en ooreenkomstig Reglement 6.8.4 aangewend om ‘n deel van die koste van die verrigtinge (insluitende die Regter se gelde) te delg. Desondanks en ten spyte van die volledige uitspraak was mnr H steeds ontevrede. Hy het gevra dat sy deposito aan hom terugbetaal moes word. Dit is geweier. Sy slot- woorde was: “Ek voel werklik magteloos oor die onreg wat my aangedoen is. Dit gaan hier duidelik oor die beskerming van die versekeringsbedryf ten koste van ‘n onskuldige verbruiker.” In antwoord daarop is mnr H daarop gewys dat sy opmerkings ongevraagd, onvanpas en ‘n belediging vir sowel die kantoor as die betrokke regter was. Ons slotwoorde was: “Ons lêer word hiermee finaal gesluit.” Dit bewys maar net weer: ‘n hardekop hoor nóg raad nóg rede.

AS
April 2006

Download Attachments

Subscribe to our Newsletter